Tuesday, October 4, 2011

Alaska uit die lug: Maandag 10 Oktober 2011

Maandagoggend betaal ons die astronomiese 18 dollar vir 'n ontbyt - moet se dit was darem 'n ordentlike buffetontbyt met eiers en bacon en als wat mens nodig het om die res van die dag uit te hou.

Ons woon praatjies by tot ongeveer 12 uur waar ons die IEEE SMCS Chapter Chair meeting gaan bywoon. Daar is 'n ander vergadering voor ons vergadering aan die gang en een Chinese omie is heel ongeskik met my en jaag my en Aurona omtrent weg en se ons moet weer oor 15 minute terug kom .. ek ruk my gat lelik in 'n krul en se hulle moet nie ons tyd mors nie- as die vergadering vir 12 uur geskeduleer is begin dit 12 uur - ons is almal besige mense met ander afsprake .. Aurona wil haar self doodlag na die tyd vir my en ek kry natuurlik dadelik weer Calvinistiese 'remorse' en voel vreeslik sleg .. maar nou ja, toe die vergadering uiteindelik begin is hulle baie apologeties dat dit langer aangehou het as wat bepland was.

Die middag kry ons 'n vliegtuigrit georganiseer vir 5 van ons oor die gletsers. Die vliegtuigie kan 6 passasiers neem en alhoewel dit beslis meer 'crowded' is as 'n normale vliegtuigrit was dit die 'event' van die week. Die besigheid is so 'n familie besigheid met die tannie wat als organseer met 7 hangende kinders om  haar. Aurona is natuurlik gefassineer deur hierdie nomadiese familie wat jy duidelik kan sien waar waspoeier nie hoog op die lys is van aankope in 'n maand nie ... ek was baie meer gefassineer deur die vliegtuigrit.

Daar is nie woorde om die uur in die lug te beskryf nie - ons vlieg oor verskeie gletsers waar jy die ysformasies van jare en jare kan bewonder. Die sneeupieke, die wit spikkels teen die berge wat bergbokke is .. die weerkaatsing van berge in yskristalskoon water ... ai ..

Die vlieenier ken sy storie en doen moeite om ons op verskeie plekke besonder nader aan die interessante ysformasies te bring .. ongelooflik.

Terug op moeder aarde eet ons sommer goedkoop in 'n kroeg/restaurant naby die hotel en is vroeg vroeg terug in die bed ...

No comments:

Post a Comment