Friday, October 7, 2011

Die reis : Vrydag 7 Oktober 2011

Ons vlug na Houston is 12:28 - daar is gelukkig genoeg tyd om rustig deur al die formaliteite te gaan van tasidentifikasie en doeane ens ens. Om by ons regte hek te kom het ons nodig om terminale te ruil en ons is ongeveer 'n half-uur voordat die vlug veronderstel is om te 'board' alreeds by die hek. My rekenaar se battery is pap en ons moet heel kreatief die verskillende kragbronne aanmekaar las om ons rekenaars se batterye so ver te kry om te laai.

Aurona dink gelukkig aan ons energievlakke en kry vir ons 'n slaai en koffie vir die volgende been van die vlug. Die vlug is op tyd maar is een van die ou klein vliegtuigies (express) wat die normale vlugtyd van 2.5 ure tussen Washington en Houston 3 ure maak.

Ons 'wen nog tyd' en moet weer ons horlosies 'n uur aanskuif. Ons land in Houston vreeslik moeg - al wat ons nou wil he is 'n stort en is bereid om ons erfporsies weg te gee net om skoon te kom. Gelukkig het die 'president lounge' 'n spesiale aanbod van 20 dollar vir toegang - omdat nie een van ons 'bene' van die vlugte besigheidsklas insluit nie betaal ons die geld met 'n glimlag .. nog nooit het 'n stort so goed gevoel nie ..

Natuurlik is ons ook dood tevrede om aan die eetgoed in die lounge te peusel en 'n glasie wyn weg te slaan. Die wyn het my darem so bietjie kalmer gemaak want teen die tyd het ek sulke lang vloeke gegee oor die reisagent ons nie direk geboek het tussen Washington en Seattle nie.

Ongeveer 17:30 Houston tyd klim ons op die vlug na Seattle. Hierdie keer is die vlug gepak en sit ons soos sardientjies met bitter min been spasie - vandat SAL hulle sitplekke minder gemaak het in ekonomie klas vergeet mens hoe min plek daar in sommige vliegtuie is ..

Ons land so 3.5 ure later in Seattle waar ons 55 minute het voor die vlug vertrek na Anchorage. Hierdie keer is die vlug leeg genoeg dat daar vir elkeen van ons 3 sitplekke is .. Ons is so moeg - Aurona maak nie eens die opstyg nie .. ek hou darem so bietjie langer alhoewel ek gedink het om so lank om moontlik wakker te bly .. maar toe ek eers die voordeel van die drie sitplekke langs mekaar gebruik toe slaap ek vir 'n goeie uur soos 'n baba ..

In Anchorage (23:40 geland) is ons ergste vrees toe waar - geen bagasie - dit is nog in Seattle en sal eers die volgende dag afgelewer word. Gelukkig kom haal van ons universiteitsvriende ons en het ons nie nodig om 'n taxi te soek nie .. ek is so moeg teen hierdie tyd .. ons het vandat ons weg is by my huis 'n volle 40 ure gereis met seker so 6 ure slaap in totaal - nou verstaan ek heeltemal hoekom mense gemartel word deur wakker gehou te word. In my beskonke toestand bestel ek kos wat 3am eers afgelewer word - ek en Aurona peusel bietjie aan die groteske 'broodjies' wat so groot is soos 'n hele brood .. die Amerikaners moet ook alles oordoen.

Met vreugde val ons terug in die bed ..

No comments:

Post a Comment